Gedig: De Rust

Argieffoto (Foto: David Mark/Pixabay)

Fanie Olivier (Geb. 1949)

vir oupa

nou het die aand die vaal heuwels weggevee:
dis stoeptyd vir ʼn ou man in die rykdom
van sy jare sy kop helder soos die dagbreek.
so om die huis kan mens die kleure
van die struike net herken die outuin ruik
en ver die voorkop van die berg
sy hoë kuif sien uitstoot, oulaas, teen die lug.
dis stoeptyd en dis tyd van vrede maak:
ʼn lam blêr om haar ma
die voëls roep elkeen nog ʼn laaste keer voor hulle nessies
uitsoek vir die nag: ʼn duif ʼn swart katlagter
ʼn janfiskaal, ʼn hings runnik in die man se hart.
hy maak die dag se inventaris klaar: hy’t hard
gewerk die skoon sweet in sy oë voel brand
gemelk ʼn vers help kalf die boomveld
oopgeploeg gesaai geoes, met liefde liefgehad
met streng geloof geglo; sy vreugdes wyd gedeel
sy smarte vir homself gehou, hy het getrou
die dag se vordering aan God gemeld.
nou is dit stoeptyd en vir oulaas soek hy oor sy ryk:
die skemer het die bakens en die drade uitgepluk.
en als is syne waar hy ook al kyk.
hy vou sy hande sterk maar sag
om soos die voëls van vroeër God
nog weer te dank vir kos en vere
vir die somtotaal van hierdie aand se dag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.