Gedig: Die beiteltjie

Argieffoto (Foto: Ruins, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Ruins, Pixabay)

NP Van Wyk Louw (1906 – 1970)

Ek kry ‘n klein klein beiteltjie,
ek tik hom en hy klink;
toe slyp ek en ek slyp hom
totdat hy klink en blink.

Ek sit ‘n klippie op ‘n rots:
– mens moet jou vergewis:
‘n beitel moet kan klip breek
as hy ‘n beitel is –

ek slaat hom met my beiteltjie
en dié was sterk genoeg:
daar spring die klippie stukkend
so skoon soos langs ‘n voeg:

toe, onder my tien vingers bars
die grys rots middeldeur
en langs my voete voel ek
die sagte aarde skeur,

die donker naat loop deur my land
en kloof hom wortel toe –
só moet ‘n beitel slaan
wat beitel is, of hoé?

Dan, met twee goue afgronde
val die planeet aan twee
en oor die kranse, kokend,
verdwyn die vlak groen see

en op die dag sien ek die nag
daar anderkant gaan oop
met ‘n bars wat van my beitel af
dwarsdeur die sterre loop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Lenor

Beter as Loftus Marais se weergawe

SNEL

My gunsteling gedig, pragtig en lekker om hom hier op Maroela te lees. Ek het hom al honderde male gelees, miskien verstaan of weet ek nie eers wat N.P Van Wyk Louw hier wou sê nie, maar vir my is dit net so pragtig om te lees die krag en mag wat in so klein beiteltjie is en hoe elke ding van klein tot groot breek met net een enkele houdjie. Miskien is ons soos die beiteltjie in die Here se hand, Hy sal ons louter tot ons klink en blink en dan as ons onbeskaamd die wêreld ingaan kan… Lees meer »

Eliza-beth

Dankie Maroela, op skool het ek nie die gedig werklik waardeer nie, maar nou wat ek ouer is en dalk meer verstand het, nou sê dit soveel meer. Maar dankie tog ons het dit op skool gehad, dit lê tog ‘n grondslag wat in men se later jare sin maak …

Wat-ek-lees

Pragtige foto van houtbeitels maar die gedig gaan oor klip en rots.