Carina Stander
langs die pad
na ons huis
is die bome vanaand
groen vuurhoutjies –
skaterend en krom
soos vroue wat vuurhout
versamel op die rug
bobbejane roep skor
in die verte na mekaar;
die rondlopervos huil hetig
op ʼn klip sonder verstand;
die klipspringer gaan verby, vlugtend
beurend teen die wind, die wind
jy hardloop teen die heuwel af
met arms vol sekelgras
agter jou rug
die wind kam deur jou krulle
jou hare vlam in die sakkende son
vanaand besit ons ‘n kombuistafel
‘n ketel, vier wolfhonde met name
soos Storm en Skemer
buite ons huis
blom die papierdoringboom –
die gom van die wonde
op haar stam is eetbaar,
ons proe haar peule
in die melkkoei se room
vanaand dra ek ʼn blonde rok
langs die pootjiesbad
steek ons twee kerse op
en was mekaar se hare
in die wasem teen die ruit
skets ons by herhaling
die herfstige gloed
van ons asemhaling
Uit haar digbundel, die vloedbos sal weer vlieg, Tafelberg, 2006.
Dankie!