CM van den Heever (1902 – 1957)
Die stroom se silwer stem die gaan verlore,
daar waar die spruit se donker waterspore
onder die sterrenag in vertes gly.
Nou leef geen plaasgeluid; net skaad’wees sprei
hul donker spokelywe langs die mure;
en groot gaan in die stilte al die ure
soos lewens in die duisternis verby.
Daar klaag eers sag, dan heimlik-mooi die hese
treurstemmetjie – verlangend soos ʼn wese
na dae lankal weg, lankal nie meer;
die tone klim en draal en val dan weer
en op hul leef herinnering en swewe na kinderjare,
na kinderjare, rykste van die lewe,
na dae lankal dood – lankal nie meer.
Nog ween die konsertinastem en bewe
die wysie, waarin verlange lewe
vol ou weemoed en herin’ringspyn.
Dit is weer stil! en in die stilte skryn
die groot verlange na die ewige sterre;
en luister! soos ʼn stemmetjie van verre
klaag die ou spruitjie in donker – en verdwyn.
Pragtige in kleur met woorde…
Meevoerend beskrywend. Gaan haal iets diep in die hart.
Pragtige gedig. Konsertina musiek het iets spesiaal. Dit is ware kultuur musiek van die Afrikaner. Hierdie gedig is n ware kultuur skat.