Gedig: Die spel

Lizz Meiring (Foto: Facebook)

Lizz Meiring (Foto: Facebook)

By die prysuitdelingfunksie van die ATKV/RSG Spel-intervarsity het Lizz Meiring onderstaande gedig voorgelees wat sy spesiaal vir die geleentheid geskryf het. Die Spel-intervarsity is deel van die Afrikaanse Spelfees, in samewerking met die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, en word vanaf September 2014 op RSG uitgesaai.

Lizz Meiring

Die spel

Spelling is die spel
waar jou skrywe vertel
of jou taalkennis ‘n onbevoegdheidsvonnis oor jou vel.
As jy dink die Afrikaanse taal spel eenvoudig, foneties,
is jou aanname verkeerd, hipoteties.
Want as jy ly met ‘n lang y
maar eintlik wil lei met e-i,
is jy ‘n martelaar, nie die leier nie.
Verveeld het twee e’s, verveling net een.
En ‘n lieg se leuen spel anders as geld bedel, of teen iets leun.
Verras met twee r’e en veras met net een is die verskil tussen verbasing en dood.
Vaal met ʼn v is kleurloos, maar faal met ʼn f beteken jy’s in effense nood.
Trofee, het g’n e langs die o, maar troetel het;
die een wen ‘n prys en die ander is liefdevolle pret.
Mis jy die aksentstreep op a-p-p-e-l,
verwys jy na ‘n vrug en nie na die regsprosedure wat in ʼn hof tel nie.
Soos ons al hoe vinniger e-posse, SMS’e en WhatsApps tik,
vergeet ons dat verskillende spellings op gans ander betekenisse mik.
Let versigtig op jou vingers se woelinge op daai toetssleutelbord;
vergeet van jou baadjie, Boeta, aan jou spelling sal jy getakseer word.

Lizz Meiring

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elizabeth ·

Ek is MAL oor sulke “speel” met woorde! Dankie Maroela dat julle dit geplaas het en dankie Liz, jy is nou maar eenmaal skerp!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.