Gedig: Die swart kombuis

Argieffoto van brandskade in 'n kombuis

Argieffoto van brandskade in ‘n kombuis

Sheila Cussons (1922 – 2004)

Die swart kombuis het balke
die mure is berook
in ʼn groot gekraakte erdebeker
woon dags die nagskof-spook

die swart kombuis het luike
skeefgesak en toegesluit
aartappels lê die werf rond
skedels wat loop oog uit

die vensters het geen uitsig
die werf die lug het geflou
die grond is vaal puimpoeier
die aartappels is grou

geen mens beweeg hier binne
geen mens werk op die werf
êrens tussen middag en skemer
het die aarde se lug gesterf

ʼn middag hoe lank gelede
die swart kombuis is oud
daar wás nooit somer-sonlig
die swart kombuis is koud

daar hang ʼn snaakse skottel
met ʼn riffel-hingsel aan ʼn riffel-rand
en ondertoe twee gate
wat loer aan die een kant

het hekse hier gebak en brou
die swart kombuis die swyg
daar in die hoek lê ʼn kat-skelet
die swart geheim bly dig

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Henrietta Klaasing ·

Baie dankie, dis aangrypend, veral as mens Sheila se agtergrond ken. Hou asseblief aan met die plasing van gedigte! Pensionarisse soos ek wat nie meer boeke kan aankoop nie, kan dan ook deel in die skoonheid van ons taal.

Elizabeth ·

@Henrietta ek STEM! Ek kan wel nou en dan nog ‘n boek of twee bekostig maar ek wil SO graag dat meer mense saam met mense soos ek en jy en ander ons skat van gedigte lees, geniet en waardeer! Hou so aan Maroela!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.