Gedig: Die vliegenier

Foto: www.wiltshireairambulance.co.uk

Foto: www.wiltshireairambulance.co.uk

Ernst van Heerden (1916 – 1997)

Hy ken die wolke bo die wêreldsome
en die bane van die môrewind;
hy ken die dun draad van die glans-riviere
wat vlak en verte fyn verbind.

In sterlose kuile van die dag sal nou
sy helder dobber duik en sink,
waar wyd die strandloos-ongekaarte see
van hemel en steeds hemel blink.

Die dieplood flits en bewe in die ruim
waar blou die wind se golwe slaan;
en op dié yle branderrug gehef,
bly hy ʼn oomblik roerloos staan.

O watter ewewig van aarde en lug,
en watter son se wit magneet,
hou hom in wonderstraling vasgevang
en laat hom van gʼn ruspunt weet?

Nou roer hy traag en kantel loom,
maar elke wenteling sal droef
en sneller wees, want al hoe wilder sing
ʼn donker vrese in sy skroef.

En plotseling weet hy van ʼn groter mag
as wind en drukking, staal en vonk:
die sekerheid van storting en van dood
wat êrens in sy motor ronk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae