Gedig: Die warm bergwind van jou naam

Foto: Carina Stander

Carina Stander gee meer agtergrond oor dié gedig in haar skrywe, Tsitsikamma: Plek van sprankelende water op Maroela Media. -Red

Carina Stander (Geb. 1976)

(Tsitsikamma)

die warm bergwind van jou naam
weergalm deur die kuswoud
van die suide

terwyl die hartseer plantasie
in die vallei
oumansbaarde snoei,
waai jy deur ʼn knoesterige
witmelkhout se boskasie

jy laat die vrugte oor my reën
in persswart spatsels;
jy streel die kalander se skilferbas
en voer die vlermuis geel vrugte
uit die hoogste takke

soms is jy oral en hier
deurwarrel jy my soos ʼn man;
jy leun teen ʼn bostaaibos
se vrattestam, jy kyk my aan;
die are op jou arms
beur soos wortels uit die grond;
jou skelet beweeg in die wind
soos die wit vlegstam van ʼn vlier;
my wange word die kleur
van kletterklippe
langs ʼn onbekende kus,
lila of vuilpienk
soos die oë van ʼn grotvis

nogtans pluk jy vir my
fyn room blomme in die winter
en die vlerksade van ʼn kamassie;
ons bed is die geheime blare
van ʼn berkeboom

kom ons loop barvoets
deur die natwoud,
kom ons gaan kyk smôrens vroeg
hoe die branders sproeireën
teen die horison
waar walvisse byna hoorbaar paar
in die vliesblou uitspansel
van die see

dáár sal ek my liefde vir jou gee

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.