Gedig: Dit is volbring

Foto: preachersinstitute.com

Foto: preachersinstitute.com

IL de Villiers (Geb. 1936)

mens sien pas voor die oomblik van die dood
glo prente van tevore, kiekies uit ʼn laai
wat lank daar lê: die skoolkonsert, die groot
party, son op die agterstoep, ʼn skaaprib bruin gebraai

straks het die Heiland só op golgota gesien:
net voor die sterwe goeie dinge, hoe Hy slaap
terwyl dissipels roei, die vroue wat Hom dien
die bruilofsvrolikheid en hoe die wyn opraak

dalk was getsémané te naby, al die angs, sy lyf
te stukkend van die kats en spykers, te vol pyn
– verwarring in die tuin het almal uitmekaar gedryf –
hoe kon Hy nog aan kana dink by hisop en asyn?

Tog moes Hy dit onthou hoe hul vry uit kon vaar
voor Hy, bloed oor die ribbes, kon vergeef: dis klaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Elizabeth ·

Ek het nou heeltemal ‘n knop in my keel…. dankie Maroela.

Michiel ·

As jy al so diep in jou geleënde tyd stap en jy lees die laat dit vior jou diep in dankbaarheid dink,aan geseënde tye

Lourens Faul ·

Eienaardig dat daar vir Klassieke musiek geen plek in Afrikaanse musiekrubrieke is nie. So sluit julle kennis van Lourens Faul se luistervriendelike kunsliedere uit. Niemand is bewus van sy 300+ Boerneef toonsettings in wat hy in opdrag van Boerneef self opgeneem het nie. Lourens Faul sing die liedere self met sy eie begeleiding.

Elizabeth ·

Ek het ook nie van u geweet en dis jammer! Dalk moet u dit op YouTube sit? Ekself is ‘n groot klasieke musiek aanhanger – dalk moet u ook die mense van KKNK of Aardklop nader om vertonings te lewer met Boerneef se werk. So-iets moet otg nie verlore gaan vir ons Afrikaanssprekendes nie. Hoe lyk dit Maroela – kan julle nie ‘n artikel oor die man doen nie? Dis definitief in belang van ons mense sou ek dink!

Lourens Faul ·

Elisabeth
Dankie vir jou kommentaar op myne. Jy’s die een swaeltjie wat ongelukkig nie ‘n somer maak nie. Gelukkig het Otto Liebenberg van NALN op 23 Oktober op Radio Rosestad my 83ste verjaardag van my liedere gespeel.
My Boerneef-liedere dek die hele spektrum wat Boerneef self gedek het. Van vermaaklik tot (dood)ernstig. Alles is daar! En ek het nog nie klaar nie. Daar kom nog by: Van Wyk Louw, Leipoldt, A G Visser, Ernst van Heerden,
Jakkals moet maar sy eie stert prys op hierdie Vallei van Verlatenheid wat “Afrikaanse Musiek” sy uitsluitlike gebied gemaak het.

Elizabeth ·

Lourens, dan doen jy dit vir eie plesier en daar is OOK niks mee verkeerd nie! En dis wonderlik dat u so op-en-wakker op 83 is – ek bewonder u opreg! Groete

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.