Trienke Laurie (Geb. 1946)
Vir Lucas en Antoinette Venter
Soos in Eden, in Genesis,
is alles nuut, nog onbenoemdes.
Ons soek elke voël se genus en gebied.
Die tjeriktik se wysie word nagefluit,
op sysies se kleur en die spesie besluit.
Man en vrou staan in verwondering, besin
soos Adam en Eva aan die begin.
!narra, peul en klip en kuttel
het elk ʼn eie storie, naam en doel.
Die !narra is die woestyn se waatlemoen.
Die kameeldoringpeul groei by gorra en geul
en is graanvlokkies vir die gemsbok –
ʼn netwerk van neusaartjies verkoel
die bloed voor dit vloei na sy brein.
As die aardwolf termiete vreet,
stuur hulle ʼn waarskuwingsein
en word dan onsmaaklike goed.
Gneis is ʼn donker en ligte steen
deur hitte aanmekaar gesweis;
kalamiet mag nou steen wees
maar was millenniums gelede riet.
Die kuttels wat langsaam vergaan,
wys op gemsbok se bestaan.
Kom dit effe reën
dan blom die ghaap
en blomparasols word paraplu’s
en paddastoele spring die pad vol.
Soos ʼn rol Herero-rokgoed sprei
die reënboog, kam oor duinekruin
die lig – oor peul, oriks en oniks
termiet en aardwolf bruin
gneis, kalamiet, kleikluit en kuttel –
omkring asof simbool
elke skaars ding met ʼn oureool.
Pragtig!
Die vreemde woorde, so heerlik op die tong en ook in die gemoed.