TT Cloete (1924 – 2015)
ons het nie ou katedrale en kastele nie,
geen breë riviere bevaarbaar vir groot skepe nie.
die min wolke wat ons het, is yl versprei,
ons het nie groot metropole nie.
ons is sonder groot donkergroen woude,
dun is ons geskiedenis met min groot name
soos beethoven of dante
of rembrandt of bramante
ons het min onwerklike sagte drome
maar ons het uitgestrekte woestyne
en krom grys bome wat houtbeen vasskop
in die droë sand en koets teen die son
ons het baie droë lope
en oerrivierbeddings met ou inheemse name
soos gourits en storievertelname soos skrij
of kameelsleep en lijersdraai
en baie reste naby aan die eerste worp
by wêreldseinde in die suisende stil nag
hoor jy die jakkalse se fossielskreeu
iewers tussen angstjank en primitiewe spotlag
Wow! Meesterlik
Die meester aan die werk, TT Cloete, Afrikaans se meester van gedigte, soos niemand hom ooit kan nadoen nie
Voorgeskrewe gedig vir gr 12. Die meester aan die werk…