Gedig: Erfgoed

Argieffoto

Argieffoto

Trienke Laurie (Geb. 1946)

Almal wil stukkies Ma dra,
stukkies Ma om hulle vou.

Tina se tenger tienerlyf
vryf teen die satynkatoen
van ‘n nagjurk blou
wat dubbel om haar vou.
Kussinkies wat na Ouma ruik
wil die kleinkinders gebruik.

Frokkies laat ons links lê
maar sokkies wil ons almal hê.
(Trek tog nou die frokkie aan,
het sy telkens ons gemaan.
Dis die oorsaak van al julle kwinte
en verkoues, dat julle meen frokkies is oorbodig,
hoogstens bedoel vir die oues.)
Met slaapsokkies aan dink
ons terug, seil die hele ent pad
op ‘n Turkse mat na die bed,
waarop ons gesels en gelees het
en met blokraaisel invul
die woord “luttel” ontdek het.

Die boontjiesak – gewoonlik
soos ‘n boesel teen haar rugsaal –
is in die oondjie warm gestraal
daardie allerlaaste aand
van die immer koue hand en voet.
Dis vir Died soos ‘n laaste groet.
Sy’t lughartig voor sy gaan
ironies oor die koudwees gemaan:
“Ja, ek is reeds halfpad dood.”
Dalk was daar geen oorgang nie
so vinnig was die laaste asemstoot.

Klein Luke wil net die klippies hê
vir tel en spel en om ‘n kraaltjie uit te lê…
Dié filosoof tel vere op:
“Soft feathers make me think of Ouma.”
(Van die lae deurkosyn hang onderstebo
‘n vereband soos van ‘n Indiaan
om grappig te waarsku, as ‘n lang ou deurgaan:
Pasop jou kop!)

‘n Sus wat nooit ‘n oorbel dra
vra hoe sy dan kamstig lyk;
my gesig verroer geen spier nie,
maar ek verkneuter my, het binnepret
want eers die susters erf,
dan kies die kleinkinders en kleuters,
en miss Glamorous Mieke
– skaars tien en vol dingetjies –
is dol op oorringetjies, drama en ballet.

Vir die tasbare onthou
wil ons almal stukkies Ma
koester en om ons vou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae