Gedig: Flits uit ʼn braaipan

Argieffoto

Argieffoto

Sheila Cussons (1922 – 2004)

Vet wat skiet maak seer, en huid gaan nie ánders
voorgee nie, protesteer onmiddellik, vlam van woede
rooi. Lyf is reguit in sy reaksies, veins nooit soos
ʼn hart met kamme-ongeërgdheid; die ingewikkelde,
huigelende, dapper, gedrogtelike hart.
Sensasie deel ons met diere, met die engele intellek,
maar niks in die ganse heelal is alleniger as ʼn gemoed –
God het Hom onsalige sorge op die hals gehaal toe Hy
besluit het: “Laat die mens wees!” en Hý – nadat dit
duidelik geblyk het dat geen van die vernufte wat
Hy saamgegee het: matesis, wysbegeerte, nie eens sy
gawe van religie, die ding wil laat werk nie – verplig was
om self in te spring – Tót met die eerste Pase die hemel
kon ophou hande wring, en elke beskermengel, yweriger as ooit,
sy take verrig, gesprékke kan voer selfs met oplaas
ʼn ontvanklikheid waar eers net stugge verbystering was –
Dier genoeg nog, lek ek die plek waar die vet gebrand het,
en wat die res betref: gans verander sedert Jesus, bedank ek
God nou vir sy onbesuis-geniale besluit om ʼn wese te skep
wat nog náder sou aard aan sy eie Self, en dat dit eindelik
uitgewerk het, en dat dit die einste hart is wat twyfelloos
kan sê: Dit is nie net “goed” nie, Heer; dis manjifiek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae