Gedig: Geologie

(Foto: Ayush Sharma/Unsplash.)

Barend J Toerien (1921 – 2009)

ʼn Klip wat so oud is
ʼn triljoen jaar? maklik meer
draai ek om en om in my hand
ek wat ʼn presiese aantal jare het
en dit weet maar ook nie weet nie.

Terug ver terug is dit klip
ver verby die moerasse se prut
die glinnerige silk
die nat slym van kiemselle
is dit klip ene klip.

Klippe is die aarde se ruggraat
en hou ook vir ons in posisie
ons wat kom en gaan
met die gekantel van die aardvark.
Hulle is immuun teen seisoene.

Vir ʼn klip is ons toebehoorsels, ʼn dou
liggies op die kors van ʼn afgetrokke aardbol
wat ons afskud soos druppels
soos hy tuimel na sy afspraak
waarby ons nie sal wees nie.

As ek die klip neersit bly dit staar
met blinde standbeeldoë uit al sy fasette
ʼn staar dwarsdeur my en verby my
wat sê, Word soos goeie water
vloeibaar, gehoorsaam die wette.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.