Gedig: Groenspreeu

Argieffoto (Foto: Pixabay/Pexels)

PW Buys (1923-1999)

Die digter is ʼn leuenaar wat altyd die waarheid praat
– Jean Cocteau

Jy kan die groenspreeu nie vertrou,
hy lieg die aarde pimpelblou.

Hy fluit die hemel lowergroen,
paljas ʼn pruim tot perlemoen.

Hy tierelier die suring soet
die katjiepiering swart soos roet.

Hy vonkel, konkel, toor die son
tot ʼn ranonkelrooi ballon.

Die groenspreeu is ʼn kunstenaar –
soms lieg hy selfs die waarheid waar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.