Toon van den Heever (1894 – 1956)
Die haelwit gestapelde wolke,
Paleis deur die winde gebou!
Hoe sou ek hul heimnis vertolke
En saggies dit fluister vir jou?
Verguld steek die domme nog witter
Af teen die velde van blou,
Soos jou oë, en perlemoer skitter
Soos dou.
Sal ek fluister? Ons ryk in die weste
Word van sieraad ontbloot;
Die winde verstrooi nou ons veste –
Selfs wysheid moet dood;
Maar wyl lippe op lippe kan bewe,
Bied my jou mond, Lief, bied nou
Eer ons gloed, eer ons hartstog begewe,
Soos paleise deur winde gebou.
Pragtig. Hou van die ou gedigte. Dit roer my siel.
Toon van den Heever se seun was 1970 tot 1990 ons huisdokter op Ermelo, wat ‘n lieflike mens.
Ek’s ook ‘n liefhebber van die digkuns
My Liefling skryf sulke toorgoed wat na skilderkuns klink
Ons oorlede pa het graag gedigte en rympies voorgedra van toeka. Dis nooit neergeskryf nie. Verlies vir ons taalgeskiedenis.
Bevoorreg om uit daardie era se digkuns te geniet.