Gedig: Hans Merensky

Hans Merensky Foto: UP Library Services Digitisation

Hans Merensky Foto: UP Library Services Digitisation

Trienke Laurie (Geb. 1946)

Vir my man, Dirk

Met die kennis van ʼn geoloog
bespied hy en vertolk
gefnuikte struik, rots en rif.
Teen ontgin van spoeldiamante
voer en wen hy die betoog.
Sy pa, sendeling by Botshabelo,
ken die hartetaal van engele, mense.
Hans peil dieper as die droë sand,
sien verder as die oog se grense,
beskik oor die astrale wete:
Ek praat die taal van klippe,
verstaan deur metafisika
dat by beddings oesterfossiele –
ostrea prismatica
diamante
in prismas lê en wink
soos hoë sterre – suiwerk, blink.

Op Boegoeberg by Alexanderbaai
waar Boesmans eens in ʼn ghaai
gemsbok geskiet het met pyl en boog,
het delwersdrome opgedroog –
verpoeier tot dowwe njabbas
in Namakwaland se duinesand.

Voor ellende verder paddastoel
het Merensky pragmaties gekeer:
slegs die staat sal prospekteer
en so die riskante mark beheer.
Watersponse by Wesfalia laat hy herstel.
sy werkers word goed versorg –
eet vleis, poetoepap en marog.

Jy is nie meer ʼn spoeldiamant –
dobberend of dobbelend
rakende nóg wal nóg kant –
geen schlenter in die bybiesif
maar nou ʼn skuiling: Botshabelo!

Jy delf in hierdie kleim
met oorleg tot God se doel.
In die strata van jou brein
lê vasgevoel
ʼn knewel van die hoogste karaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.