Lina Spies (Geb 1939)
Vir Hans Ester
Na dae van soveel tinte grys en grou
herken ek in die ineense blou
die kraakskoon hemel van my kindertyd
en naaldskerp deur murg en been
dring daardie heuwelland se somergroen:
so fel het ek dit vroeër nooit gesien.
Die oog geobsedeer met gisters
filter herinnering; hy’s ʼn geleerde dief –
hy steel wat hom behaag:
stegies styg tot stadsgesigte,
ʼn treinvenster raam boerderye:
oral besigtig ek pensketse en akwarelle.
Ek het die lae landjie lief.
Die kerkklok se sonore slag
laat my snags gerus inslaap:
kind by oupa en ouma tuis
wat die mate van ʼn vertrouder uurwerk tel;
veilig om my die mure van ʼn plaasopstal.
Hoe aanwesig meteens ver plekke, grootouers en voorouers
in die kristal van hierdie laelandse dae.
Op die wei langs glinsterende water
swiep seevoëls neer in die laatmiddaglig
en bo my in ʼn Vrystaatse gewelf
klink ʼn ander vlerkgeklap.
In die sierlike meeu se snerpende kras,
hoor ek die heimweeroep van die hadida.
As ek hierdie gedig lees herinner dit my ook weer dat hier in ons land, dis hier waar ek wil bly! Ons vir jou Suid-Afrika! Die nostalgie van die gedig het my getref en myself vir ‘n oomblik ver terug in die verlede laat wegraak. As ek maar net die horlosie kon draai!
Daar is net EEN Suid Afrika – die reuke en geure, die klanke en kleure… ek bly NET hier! Dankie Lina en Maroela!