Gedig: In die klein gemeentes

Argieffoto (Foto: Pixabay)

TT Cloete (1924 – 2015)

In die klein gemeentes hou ons liefde boek
van die foute van die ledemate,
van ons broers en susters, ons ondersoek
ry op, ry af, na links, na regs mekaar se kwaad…
ons hou rekening van en ons reken af met
mekaar in die klein gemeentes voor die diens,
met ons ledemate se foute voor Gods wet
gesiens en ongesiens…
ons kam mekaar uit
soos primate met die skerp nael mekaar
uitkam tot diep in die huid,
tot in die wortel van die haar…
van gehoresegge en ongehoord
en vermoed, voor en tydens en na die diens;
soort vermy en veroordeel soort
gesiens en ongesiens.

Maar God, God is anders as ons. Hý
is vol genoegdoening as die sondiges iets weer reg kry…
God geniet dit as die alkoholis
gerehabiliteer is.
God vergeet. God
vergeet tot uitgediende hoerery, diefstal, tot
uitgediende moord, tot die onthouers
so goed as en saam met die verbrouers.

Maar óns, ons geheue is sterk
wat oortredings betref, ons is sensitief vir boos
en heilig, ons hou die sonde lewend binne-in die kerk,
tot die vierde geslag. En God? Gods liefde is geheueloos.
Henk G., 28 Aug. ’91 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Scholtz ·

In-die-kol beskrywing van die hart van Vader (die ewige eerste persoon van die ewige drie-enige Godheid Yahweh), asook van mense met ‘n wettiese ingesteldheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.