Gedig: In die konsentrasiekamp

Argieffoto (Foto: Антон Дмитриев/Unsplash)

C Louis Leipoldt (1880 – 1947)      

Aliwal-Noord, 190 I
O, pazienza, pazienza che tanto sostieni!
– Dante

Jou oë is nat met die trane van gister;
Jou siel is gemartel, deur smarte gepla;
Van vrede en pret was jy vroeër ʼn verkwister;
En nou, wat bly oor van jou rykdomme? Ja,
ʼn Spreekwoord tot steun – daar’s geen trooswoord beslister:
“Geduld, o gedu]d, wat so baie kan dra!”

Hier sit jy en koes teen die wind wat daar suie
Yskoud deur die tentseil, geskeur deur die hael –
Jou enigste skuil in die nag teen die buie;
Die Junie-lug stort oor die stroom van die Vaal –
Jy hoor net die hoes van jou kind, en die luie
Gedrup van die reëndruppeltjies oor die paal.

ʼn Kers, nog maar anderhalf duim voor by sterwe,
Brand dof in ʼn bottel hier vlak naas jou bed.
(ʼn Kafhuis gee makliker rus: op die gerwe
Daar lê ʼn mens sag, en sy slaap is gered!) –
En hier in die nag laat jou drome jou swerwe
ʼn Aaklige rondte met trane besmet.

Hier struikel die kind wat te vroeg was gebore;
Hier sterwe die oumens te swak vir die stryd;
Hier kom ʼn gekerm en gekreun in jou ore;
Hier tel jy met angs elke tik van die tyd;
Want elke sekond’ van die smart laat sy spore
Gedruk op jou hart, deur ʼn offer gewyd.

En deur elke skeur in die seil kan jy duister
Die wolke bespeur oor die hemel verbrei;
Geen ster skyn as gids; na geen stem kan jy luister
(Eentonig die hoes van jou kind aan jou sy!)
Wat sag deur die wind in jou ore kom fluister:
“Geduld, o geduld, wat so baie kan ly!”

Vergewe? Vergeet? Is dit maklik vergewe?
Die smarte, die angs het so baie gepla!
Die yster het gloeiend ʼn merk vir die eeue
Gebrand op ons volk; en dié wond is te ná –
Te ná aan ons hart, en te diep in ons lewe –
“Geduld, o geduld, wat so baie kan dra!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.