Gedig: Kabouterliefde

valentyn

Ingrid Jonker

Vir Simone

Die kabouter met die rooi-rooi pet
die kabouter met die geel hemp aan
het sy hart gistraand vir my gegee
en sy hemp is vir die maan

Die hoepelronde blou-blou lug
het kadoemps op die grond geval
hy’t dit blink-blou in sy hand gerol
toe speel ons daarmee bal

Die sterre met hul wit ligte
het geknipoog toe ons lag
hul’t rondom ons in ʼn kring getrek
soos ʼn laer in die nag

Die aandblom het sy trom-trompet
geblaas in die warrelwindkring
die kalkoentjies met hul rooi mondjies
het die sprinkaan-wals gesing

Die maan met sy geel lyfie
het gaan plat lê op sy rug
hy’t gaan slaap by die gousblomme
met sy boepens in die lug

Die kabouter met die rooi-rooi hart
het dit self vir my gesê
hy’t die aardbol oor sy kop gegooi
o dis hier waar die liefde lê

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.