Gedig: Katrina

Die bekende kleurvolle geboue van die Bo-Kaap Foto: vickyflipfloptravels.com

Die bekende kleurvolle geboue van die Bo-Kaap Foto: vickyflipfloptravels.com

ID du Plessis (1900 – 1981)

Katrina van die Bo-Kaap
Het voor haar deur gestaan.
‘n Boot lê in die hawe,
Matrose kom al aan

Oor Strandstraat na die Boereplein
Die donker strate in;
En netnou sal Katrina
Se nagtaak weer begin.

‘n Halfverlepte hoedjie hang
Parmantig oor een oog.
Die rooi veer is verrinneweer
Maar staan nog met ‘n boog.

Katrina dra haar beste rok.
Sy stryk die kreukels plat.
So fyn asof ‘n vryer wag,
Het sy haar uitgevat.

Maar eer sy van haar huis gaan,
Kyk sy ‘n keer weer om:
Lank sal die leë ure wees
Voordat sy daar kan kom.

Katrina stap deur Roosstraat:
Astrant, met slentergang.
Wie raai nou aan haar houding
Dat sy na huis verlang?

Nou kom sy by haar susters:
Die rawe van die nag
Wat by die hoeke uitskel
Of somber staan en wag.

Katrina ken haar roeping:
‘n Harpy van die eer,
‘n Noodgedwonge rower,
Wat alles tóg ontbeer.

Katrina haat die lewe,
Katrina vrees die dood,
Katrina gaan haar slentergang,
Verdien haar bitter brood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elizabeth ·

So mooi en so hartseer, hoevele Katrienas is daar – veral in ons land wat net so voel? Wat die lewe haat en die dood vrees. DIS nou ‘n gedig wat Koos Kombuis kan toonset en sing!

Elizabeth ·

@lalala – jammer nie geweet – waar kan ek dit hoor? Deur wie? Dankie vir jou info!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.