Gedig: Ken jy die see…

Argieffoto (Foto: kordi_vahle, Pixbay)

Uys Krige (1910 – 1987)

Ken jy die see, Meneer, ken jy die see?
Hy lyk nou soos jou voorstoep blinkgeskuur
en kalm soos min dinge hier benee,
maar hy’s gevaarliker as vlam of vuur.

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Dié vrede, kalmer as ‘n stil, soet kind,
lyk of dit dae, dae lank sal duur.
Maar word dié bries ‘n bulderende wind,
dan veg jy vir jou lewe, uur na uur.

En jy sê nog, Meneer, die vis is duur.

Ja, sleep die swart, swart wind die swart nag mee,
waar kry ons hulp dan, waar’s ons naaste buur?
Die Dood staan voor die deur. Geen hy nog net één tree,
dan kelder hy ons almal in sy koue skuur.

En jy sê nog, Meneer, die vis is duur.

Wat van die storms wat nooit ophou raas?
Jy sit pal in jou kliphuis, klam en guur,
en hoor die wind al woester, wreder blaas.
En daar’s geen sprokkel hout meer vir jou vuur.

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Was jy al van jou bootjie soos ‘n veer gevee
deur ‘n grys golf hoog soos ‘n tronk se muur
Wat help dit om te spartel en te skree: “Nee! Nee!”
sluk jy eers daardie waters sout en suur?

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Ken jy die doodsangs as die rukwind klap?
Dié waansin ken geen redmiddel of kuur.
Hy vreet mos aan jou ingewande nes ‘n krap.
Hy’s koud soos ys, heet soos die hellevuur!

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Ken jy die see, Meneer, ken jy die see?
Hy wat met groen jaloerse oë na ons gluur,
ons wat net één ou misstappie moet gee
en hy kom tromp-op op ons afgestuur!

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Sien jy die krom ou vroutjie daar, mevrou Mathee,
wat telkens ver, vér oor die golwe tuur?
Sy dink dié briesie bring haar seuns betyds vir tee.
Hul slaap aldrie agter die kerkhofmuur.

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SNEL ·

Ja, pragtige gedig, mens kyk daai vis so wat hulle verkoop en besef nie wat alles gebeur en deurgemaak moes word om daardie vis vir ons te bring nie.

Nouja ·

Die tradisionele vissersgemeenskappe bestaan feitlik nie meer nie. Krige beskryf hier ‘n leefwyse en kultuur groep wat tragies tot die nostalgiese verlede behoort.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.