Gedig: Kindertuin

Argieffoto (Foto: Anerma, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Anerma, Pixabay)

Zandra Bezuidenhout (Geb. 1945)

Uit: Briewe aan my moeder
3. Kindertuin

ek was ʼn kind van twee
toe jy my leer hoe name trommel
teen die binne-oor
vi-ool-tjie py-pie bot-ter-blom
het jy geklank
kal-koen-tjie bob-be-jaan-tjie
met die tong gedoop
jy wou dat ek die woorde proe
geluid van gousblom ken
wat opslaan in September

terwyl jy buk en pluk
het ek die bossie vasgehou
gedink dat blomme orals was
soos gras en wind
jy’t van die veld vertel
kransies uit jou kindertyd gevleg
en om my nek gehang vir later
gewys hoe mens die sterre
aan jou polse bind

jy het die taal in blom
help bêre op my tong
sodat ek sou onthou
tjien-ke-rien-tjee se oog is swart
of lente is ʼn liggeel suringlap
varklelies staan in room en groen-
poeierwysters van die ver verlang
na ma’s wat afbuk in die son

Uit: André P Brink, Groot Verseboek Deel 3

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Otter ·

Dit is werklik ‘n spesiale gedig. Daar’s darem nie nog ‘n taal so mooi!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.