TT Cloete (Geb. 1924)
die kremetartboom is ʼn boom
hy laat nie sommer mense in hom klim nie
hy laat jou in hom óp kyk hy laat jou om hom loop
die olifante het hom bygekom sy bas gestroop
dit laat hom ongeroer
die kremetartboom is ʼn boom
die ape mag maar in hom klouter
baljaar en hom beskyt dit laat hom ongeroer
hy laat die slang en vlermuis in hom boer
die leeus mag aan sy basis pis
hy bly maar wat hy is
die kremetartboom is ʼn boom
diep in sy sagte bruin ou bas
het harteloses hulle éie harte uitgesny
dit laat hom ongeroer sy holtes is deur bye
vol van hulle blommesoet gemaak
die spinnekoppe span in hom hul sterrerak en radar
die kremetartboom is ʼn allerboomste boom
hy is meer kaal meer stam as tak en blaar min vrug
meer aarde toe terug en ín as in die lug
mens sien hom as hy oud is raker raak
vol rimpels sag vol vog en sap
geen ander boom lyk naasteby
so enig bomelik soos hy
alleen die GrootVoet kan hom trap
sy swaar liggaam totaal toemaak
die kremetartboom is my boom
Verseker ook vir my die mees indrukwekkende boom! Kon my verkyk toe ek Messina
besoek het.
Wat ‘n ode aan die ou reus ! Sielsmooi !