Gedig: Lettergreep

Argieffoto (Foto: Susanne Jutzeler/Pixabay)

Jeanne Goosen (1938 – 2020)

Ek wou ʼn gedig skryf
maar in ʼn reël het die woord
arachne
soos ʼn ongenooide gas binnegesluip
Miskien is sy honger
het ek gedink
en haar met die woord ‘vlieg’ probeer voer
Sy het nie ag geslaan nie
maar blink drade oor die bladsy begin spin
Alles wat ek wou behou het sy na haar vangnet gelok
en dit letter vir letter verslind
totdat net die woord ‘arachne’ oorbly
En die woord het lewendig geword
Dit het op ʼn lyn gaan staan
taai aan my pen begin knibbel
en geprul:
Sjuut
Te veel woorde
Te veel woorde …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae