Gedig: Lied van die lemoen

Argieffoto (Foto: LoggaWiggler, Pixabay)

Argieffoto (Foto: LoggaWiggler, Pixabay)

Uys Krige (1910–1987)

“Wat het die son met jou gedoen, lemoen?”
“Hy’t my gestreel, hy’t my gesoen.
Nou is ek rooi en ryp en rond,
ʼn vreugde vir die oog en mond!”

“Die son het jou met lig geraak, lemoen?”
“Hy’t my geskroei, gebrand, geblaak.
Nou is ek vuur uit daardie bron,
die ene vlam; die ene son!”

“En snags die maan… wat van die maan, lemoen?”
“Haar silwer arms om my geslaan.
Toe’t van haar koelte in my gegaan,
stil in my sap gesypel, langsaam aan.”

“Die aarde het jou niks geskenk, lemoen?”
“Sy klei, deur dou of reën gedrenk.
Nou is ek son én maan en dag én nag,
het ek van aarde en lug hul vog, hul krag.”

“Wat het die mens met jou gemaak, lemoen?”
“Vir my gesorg, oor my gewaak.
Nou’s ek dié seën op sy strewe,
simbool van vrugbaarheid en lewe!”

“Wat moet ons met jou doen, lemoen?”
“Ek wil ʼn goue glans wees tussen groen,
gepluk word dan, só met my lot versoen,
lemoen wees slegs, lemoen, lemoen, lemoen!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Eliza-beth ·

Baie mooi…daar is niks soos lemoen se reuk en kleur in die winter!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.