Gedig: Liefdesbrief

Argieffoto (Foto: kaboompics, Pixabay)

Argieffoto (Foto: kaboompics, Pixabay)

Riana Scheepers (Geb. 1957)

Liefste,
ek lees liefdesgedigte
die wêreld se heel mooistes

In al die tale wat ek ken, lees ek
en dis pragtig
die lofliedere aan die liefde
die odes aan die geliefde

Alles goed en wel, dié ontroerende verhale
maar my moed sak weg, Lief,
want nie een, nie één
sê iets
net náástenby iets
van jou
van jou en my

Wat sál hulle kan sê
– die Groot Digters
wat smagtend by kerslig
met beeld en rym
die liefde besing –
as hulle jou sien?
Sal hulle iets kan bedink
om te beskryf hoe oorweldigend jy is
ken hulle woorde wat kan sê
van jou
van jou en my?

Nie een, Lief,
nie één
kan vertel
hoe die woestyne van my land
brand in jou oë;
watter taal se woordeskat is goed genoeg
om te kan sê
van jou harde, lieflike lyf
die jare se son soet op jou vel gebrand
van jou asem in my hare
jou swerwershande
wat my, mý die mooiste vrou
van alle eeue maak?

Watter digter kan ek vertrou
om te skryf
oor jou
oor jou en my?

Ek.
Ek wat my taal ken
en dit liefhet soos vir jou,
ek wat weet van beelding en metafoor
en pragtige poësie
ek wat weet
van jou
van jou en my,
ek kan.

En ek kan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Uiltjie ·

Riana, dis pragtig sowaar! Ek wed Jy put jou inspirasie uit Hooglied van Salomo!!

Tussen die liefde en die leegte ·

Frank O’ Hara het my liefde verwoord in sy “Animals”. Dit is perfek, net so. André Letoit my verlange in “Die son loop agter wolke deur”.

Wessel ·

Riana dit is ongetwyfeld waar, want niemand kan die liefde byskryf so goed soos Hy wat Liefde is. Baie pragtig

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.