Gedig: Maria

Argieffoto Foto: "Nativity tree 2011" deur Jeff Weese, Flickr via Wikimedia Commons

Argieffoto Foto: “Nativity tree 2011” deur Jeff Weese, Flickr via Wikimedia Commons

Elisabeth Eybers (1915 – 2007)

ʼn Engel het dit self gebring,
die vreugde-boodskap – en jy het
ʼn lofsang tot Gods eer gesing,
Maria, nooi uit Nasaret!

Maar toe Josef van jou wou skei
en bure-agterdog jou pla,
het jy kon dink eenmaal sou hý
die hele wêreldskande dra?

Toe jy soms met ʼn glimlag langs
jou liggaam stryk… die stilte instaar…
wis jy met hoeveel liefde en angs
sou hý sy hellevaart aanvaar?

Die nag daar in die stal – geeneen
om in jou nood by jou te staan –
het jy geweet dat hy alléén
Getsemane sou binnegaan?

Toe vorste uit die Ooste kom
om nederig hulde te betoon,
wis jy hoe die soldate hom
tot koning van die volk sou kroon?

En toe hy in jou arms lê,
sy mondjie teen jou volle bors,
het jy geweet dat hy sou sê
toe dit te laat was: Ek het dors!

Toe dit verby was en jy met
sy vriend Johannes huis toe gaan –
Maria, vrou van smarte, het
jy tóé die boodskap goed verstaan?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sarel Strydom ·

Kan julle vir ons hierdie gedig beskikbaar stel asb. Deur al my Digbundels gegaan maar kry hom nie.

Eliza-beth ·

Kom voor in die bundel “Belydenis in die Skemering” sover ek weet, maar ek het ook êrens ‘n spesiale herdenkings uitgawe van haar werke waarin dit voorkom – kan net nie nou my hand daarop lê nie. Sy was maar 18 (AGTIEN!!) toe sy die wondermooie gedig geskryf het. Dankie Maroela! Ons het die gedig ook as voorgeskrewe werk in matriek gehad.

GES ·

Sy was ook die skrywer van die skoollied van hoërskool Schweizer-Reneke. Sy het ‘n deel van haar jeug daar deurgebring gedurende die periode wat haar pa die plaaslike predikant was. ‘n Merkwaardige dame.

Carine van der Bank ·

Diep geraak deur die gedig….wat n pragtige beskrywende stuk werk.

Alet ·

Dit is die mooiste gedig wat ek nog ooit gelees het. Ek kan hom oor en oor lees en elke keer hoendervleis kry!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.