deur A.D. Keet
Jou vabond, wag, ek sal jou kry,
Van jou sal net ʼn bloedkol bly
Hier op my kamermure.
Deur jou vervloekte gonsery,
Deur jou gebyt en plaery
Kon ek nie slaap vir ure.
Mag ek my voorstel, eer ons skei,
Eer jy die doodslag van my kry –
My naam is Van der Merwe.
Muskiet, wees maar nie treurig nie,
Wees ook nie kieskeurig nie,
Jy moet tog ééndag sterwe.
Verwekker van malaria
Sing maar jou laaste aria –
Nog een minuut vir grasie.
Al soebat jy nou nóg so lang,
Al sê jy ook: ek is nie bang,
Nooit sien jy weer jou nasie…
Hoe sedig sit hy, o, die kring!
Sy kinders kan maar kranse bring,
Nóú gaan die vabond sterwe…
Pardoef! Dis mis! Daar gaan hy weer!
Maar dóód sal hy, sowaar ek sweer –
My naam is Van der Merwe!
Dit neem my gedagtes baie jare terug…. Ek het baie mense in my lewe “trakteer” met die dramatiese voordrag van “Muskietejag”. Dankie AD Keet, jy het vir baie plesiertjies gesorg!
Ja Alta, dink ek nou terug na my laerskooldae…
soveel mooi gedigte geleer daardie tyd, om voor in die klas voor te dra.
Bly daar is iemand wat saam met my terugdink aan daardie dae… kosbare herinneringe, Gerhard.
Een van my gunsteling gedigte op skool.
Heerlike herinneringe!!!
In 1975 was ek verplig om my toorn uit te spreek oor die muskiet wat weggekom het ( Met apologie aan Muskietejag. )
Hy’t gefaal
Hoe bitterlik
Sy grootgepraat
Die stommerik
EK SAL JOU KRY
VAN JOU SAL NET N BLOEDKOL BLY
Was sy grootpratery!
Helaas….
Hy’t nie gesterwe
Die stomme dwaas
Was mos n Van der Merwe!
PARDOEMS….
Weer mis
Ek moet nou ly
Deur sy sifdraadslanery
DIE BLOEDKOL TEEN DIE MUUR?
Die gejeuk en gekrap
Wat ek moet verduur
Hy’t geskop en geslaan
en getier en getrap
Maar alles was mis
Dis gewis
Die gejeuk het ek nou ge-erwe
Die dwaas
Was mos n Van der Merwe.