Gedig: My huis

Argieffoto (Foto: Joachim_Marian_Winkler, Pixabay)

Coenie de Villiers (Geb. 1956)

My hart is soos ʼn huis
wat gebou is op ʼn rots
wat uitkyk oor die see
bo die water se geklots.

Hy’s gepantser teen winde
wat aanstoot teen die kus.
Hy beskut sy kamers binne,
word ʼn skuiling om in te rus.

Mense woon daar in my huis –
ʼn pa, ʼn ma en ʼn kind.
Hulle kyk deur die huis se vensters,
word deur son op die see verblind.

Hulle kom en gaan soos mense maak.
Die huis word soms verwaarloos –
dan maak ek flink die luike oop,
al bied dit weinig troos.

Die mense in my huis is soms
selfs argeloos en tog,
is ek bly hulle’s hier, want op ʼn manier
is ek aan elke een verknog.

Hulle leef in die kamers van my huis;
eet die kos wat ek daagliks berei,
Die jaar draai stadig op sy rug
en dan’s die seisoen verby.

Hulle pak hul koffers en tasse
en verlaat die huis een-een
toe staan die kamers skielik leeg
en woon ek weer alleen.

Uit: Hartlangs – Lirieke 1973 – 2012 deur Coenie de Villiers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae