Gedig: my oupa

Argieffoto (Foto: Stocksnap, Pixabay)

Lara van der Merwe, in graad 11 aan die Hoërskool Durbanville, het dié gedig aan haar oupa Frik geskryf, ʼn mielieboer van Mpumalanga. – Red

my oupa

my oupa is meer as net ʼn mielieboer,
meer as net ʼn Isuzu en ʼn two-tone boerehemp.
daar is meer aan die Camel Lights tussen die vingers,
meer aan die bultende padkaarte op sy hande.

sy storie-vertel humor oor ʼn klinkende vuil coke,
die droë grappies wat hy uit sy kêps ruk en
hoe sy wakker kop nog rusteloos dwaal vir avontuur,
is alles wat oupa, óúpa maak.

hy maak musiek – ons eie one-man band –
en hou van lime milkshakes en oxtail-kerrie.
hy vat gat, hy speel saam, hy lag en sy tande blink.
en soms, wanneer hy vroegoggend koffie skink,
sit hy kamstig soos ʼn oumens
oor die lewe en dink.

my oupa ‘ly lof’ oor grondpaaie, hy druk
blou note in jou gatsak en koop swiets as ouma
nie kyk nie. sy hande; altyd van de grease.
allewig besig om iets reg te maak,
en om soos ʼn vreeslose arend
oor sy familie te waak.

hy is ʼn liefdevolle boerboel in ʼn wêreld vol
windmakerige jack russels.

hy is meer as net ʼn mielieboer,
hy is oupa frik vir wie ek so lief is.

hy is my oupa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.