Gedig: ʼn Boer sterf op sy plaas

boer-windpomp-plaas-reint-dykema-7.jpg

Foto: Reint Dykema

Deur Carina Stander (Geb. 1976)

‘n Boer sterf op sy plaas.
Die weigras knak in die nanagwind,
knak kromrug en geruisloos.
Die saailinge is agteroorgebuig,
die wind waai: ‘n boer sterf op sy plaas.
Die saad sidder ondergronds.

‘n Boer sterf op sy kindsbeenplaas.
Hy het osse gemaak uit miershoopklei,
diere met sekelmaanhorings.
Later sy kroos geabba deur die dorings –
sy vrou vonkelend en broos
in die lamseisoen.

‘n Boer sterf grusaam op sy plaas.
Hoor hoe bars die boord uit haar nate,
sap en pitte reën alomheen
in ‘n laaste seënwens
dat die bome steeds jaarringe sal maak,
dat die plaas tot puinhoop van pyn nie verval.

‘n Boer sterf op sy lieflingplaas.
Die aarde gooi haar arms vir hom oop,
die kudde in die kraal luister hoopvol vir sy gefluit,
die waghond tjank sag na binne.
In die stal stamp die hings sy hoewe.

‘n Deurwinterde boer sterf op sy plaas
voordat ons kon sê
hoe die vleis uit sy veld oor ons kuiervuur sputter
die glansgroen groente van sy werf
die waatlemoene en lemoene
die bulpampoene soos geel planete
bliknat sterre uit die lug geërf.

Die boer wat ons sorgsaam gevoed het
keer terug na die grond van geboorte en bloed.
Die boomgom stol traanvormig.
Vanjaar was die vrugte bittersoet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Janine

Geen woorde. Net trane.

FM

Sjoe!!!!!!!!

Ons geknelde land

Chris dupreez

Pragtig