Breyten Breytenbach
ʼn brief van hulle vakansie
vir oubaas:
Noudat ek uitgeswel van lyf is kan ek treur
oor die eelte van my vader, die lugoë van my ma,
die skamel offerandes van hulle gebede as hulle my
op die knieë van hul Gij Here God lê;
noudat ek agter ʼn baard kou kan ek huil
as hulle snags my naam fluister met die ruite
donker knippende oë in die wind, oor die visolie
vir my griep, die ingelegde perskes (albertas) op die rak
In sy sestigste jaar swem my pa in Stilbaai se see
en stap myle ver oor die sand met sy reguit bene
in ʼn kortbroek en speel krieket op die duine
en eet alikruikels in die Sea View-losieshuis
want hys ʼn bokser dokter boer
ʼn kaptein en ʼn held ʼn indoena tussen grysaards –
En as die reën soos ʼn gesluierde bruid oor die see kom
word die lieflinghond (Trixie) lam;
drie dae veg die veearts en buig dan die knie
en hulle dra die lyk terug na Kafferskuilrivier
die plaas van hulle jong liefde en plant die saad
ʼn soenoffer in die diep grond se skoot
want nou is hulle minnaars
stil bome in die najaar met die wind
strelende drome in die takke
onder komete leeftye lang wêrelde
My ooms sterf soos kapok in die son
hartaanval beroerte kanker en tering
en my pa word stiller en meer verskriklik
van dop tot dop
Hier waar die harde winters en nat somers
my lyf ongenaakbaar skil, treur ek oor
die soet hart van my moeder
my pa se stil en bitter krag
Hoe kosbaar … noudat ek ouer word wens ek so dikwels dat ek die tyd kan terugdraai, verlang so baie na al die wonderlike tye … ek koester dit in my hart met ‘n traan in my oog en weet dat ‘nou’ die belangrikste is.
Breyten… towenaar met woorde! Dank u