Gedig: ʼn Brief van hulle vakansie

dandelion-431079_1920Breyten Breytenbach  (Geb. 1939)

ʼn brief van hulle vakansie
vir oubaas:

Noudat ek uitgeswel van lyf is kan ek treur
oor die eelte van my vader, die lugoë van my ma,
die skamel offerandes van hulle gebede as hulle my
op die knieë van hul Gij Here God lê;

noudat ek agter ʼn baard kou kan ek huil
as hulle snags my naam fluister met die ruite
donker knippende oë in die wind, oor die visolie
vir my griep, die ingelegde perskes (albertas) op die rak

In my sestigste jaar swem my pa in Stilbaai se see
en stap myle ver oor die sand met sy reguit bene
in ʼn kortbroek en speel krieket op die duine
en eet alikruikels in die Sea View-losieshuis

want hys ʼn bokser dokter boer
ʼn kaptein en ʼn held ʼn indoena tussen grysaards –
En as die reën soos ʼn gesluierde bruid oor die see kom
word die lieflinghond (Trixie) lam;

drie dae veg die veearts en buig dan die knie
en hulle dra die lyk terug na Kafferskuilrivier
die plaas van hulle jong liefde en plant die saad
ʼn soenoffer in die diep grond se skoot

want nou is hulle minnaars
stil bome in die najaar met die wind
strelende drome in die takke
onder komete leeftye lang wêrelde

My ooms sterf soos kapok in die son
hartaanval beroerte kanker en tering
en my pa word stiller en meer verskriklik
van dop tot dop

Hier waar die harde winters en nat somers
my lyf ongenaakbaar skil, treur ek oor
die soet hart van my moeder
my pa se stil en bitter krag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Skuilnaam ·

Die eerste keer dat ek onder ‘n skuilnaam skryf!
My pa is al 4 jaar gelede oorlede op die ouderdom van 76, nie ek of my sus het al ‘n traan gestort oor hom nie. Dis wonderlik dat Breyten en ek glo Kol. Jan ook, soete herinnerings van hul vader het.

Ek het net nagmerries van hom uit sy graf, hy spook steeds by my!

Hannah ·

Skuilnaam….hoe goed verstaan ek jou. Ek het self langs myne se graf gestaan en gekyk hoe die ander huil…ek kon net nie – ek wou nie – ek het geweier – ek het net in die lug opgekyk – gewonder of ek gestraf sal word – want ek kon hom nie eer nie – hy het ons lewens hel gemaak by tye. Nie eens my broer se dood op die grens in 1977 kon hom verander nie. Toe gaan trou ek met ‘n man soos my Pa….die hele gemors herhaal homself weer. Hoe ontsaglik belangrik is ‘n Pa se verhouding met sy dogter nie – dit is haar eerste verhouding met ‘n man…. dit bepaal die verhoudings met mans in die res van haar lewe – self haar verhouding met GOD. ALLE Pa’s daarbuite – sorg dat jy op die regte pad is met jou dogter. groete. h

Piet Snot ·

Ai Skuilnaam en Hannah, ek’s jammer. Wanneer ek aan my pa dink, kyk ek ook in die lug op, maar om die teenoorgestelde rede. Dis 10 jaar, en ek treur steeds oor hom.
Hy het my elke dag aan sy Gij Here God opgedra.
(Hannah, dankie vir die les oor my verhouding met my dogter. Ek neem dit ter harte)

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.