Gedig: ʼn Handvol gruis

lig-sonskyn-herfs-blare

Argieffoto (Foto: Kaique Rocha/Pexels)

Louis Leipoldt (1880 – 1947)

ʼn Handvol gruis uit die Hantam –
My liewe, lekker Hantam-wyk!
ʼn Handvol gruis en gedroogde blare,
Waboom-blare, ghnarrabos-blare!
Arm was ek gister, en nou is ek ryk.

Arm in herinnering, arm in verbeelding,
Arm in onthou van die vroeër jare
Deurgebring in die Hantam-wyk.
ʼn Handvol gras en gedroogde blare
Maak my, wat arm was, koning-ryk –

Ryk in herinnering, ryk in verbeelding,
Ryk in onthou van die vroeër tyd
Toe die Hantam-wêreld al die wêreld
Vir my was in die vroeër tyd.
ʼn Handvol gruis en gedroogde blare
Vertel so veel van die wonderjare
In my liewe lekker Hantam-wyk –
Waboom-blare, ghnarrabos-blare –
Arm eergister en nou skatryk!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.