Gedig: ’n Kersnaggebed

Argieffoto (Foto: Pixabay)

C Louis Leipoldt (1880 – 1947)

Bedaar, o Heer, die hartstog wat tot haat
Teen broer en buur wil opbruis as ek vind
ʼn Vriend nie meer tot vriendewerk gesind,
ʼn Maat van ouds nie meer my troue maat;

Skenk my die krag om, wat ook wissel en kwyn,
Die jare deur as mens getrou te bly,
En sonder trots en sonder huiglary
My plig te doen voordat my dag verdwyn;

Leen my die kennis wat my spoor tot klim
Uit bo die kranse van onwetendheid;
Sodat U skepsel, tot U diens gewyd,
Die lig kan raaksien waar die waarheid glim;

Nie om verwaand te spog met wat ek win,
Nóg om verwend my kennis voor te stel
As iets alwetends, maar op U bevel
En om wat U gegee het, te ontgin;

Die las van jare, ouderdomsverdriet
– Die kers wat uitbrand tot die blaker-blik –
Skenk my geduld om dit te dra, verkwik
Deur wat die tyd wat voorlê nog kan bied.

Vir daelikse arbeid gun my hoop en lus
– Die oes is geil en alte kort die tyd –
Besiel my in U goedertierenheid
Om voort te werk totdat U Dood my sus.

Ek smeek U, Heer, om hulp dat ek behou
Die wonderskat my toebedeel as kind:
Dat ek, in wat ek op U wêreld vind,
Weerkaatsing van U godlik skoon aanskou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.