Gedig: ‘n Student skryf aan sy meisie

Argieffoto (Foto: catkin/Pixabay)

Hennie Aucamp (1934 – 2014)

Watter nut het ironie in eensaamheid?
-Iwan Toergenjef

Ek stuur vir jou dié briefie
al is ons ding nou oor.
Ek dag: jy is tog menslik
en wil dalk van my hoor?

Ek woon hier op ‘n plasie –
Karoo so ver jy kyk –
‘n trein kom deur die leegte
en neem dan weer die wyk.

Distansie bring besinning
en mag ek sê: ook visie?
Ek glimlag oor jou selfsug;
jou passie vir ‘n rusie.

Osmose tussen mense
is moontlik, maar beperk;
emosie kan ooreis word
as dit van één kant werk.

Die oom sal netnou trug wees
met meel en Vrydagpos
(en ek sal glo moet hand gee
met aflaai van die kos).

Jy word vir my weer naamloos:
verlange onbegrens;
en só is liefde sinvol –
nie ingekort tot méns.

Die tante gaan nou kamp toe,
roep “Kiep-kiep” teen die wind;
sal sweerlik weer kom aanklop:
“Nog niks gehoor nie, kind?”

Ag, dêmmit, ek verlang jong,
kom haal my, asseblief!
En straf my tot ek seer kry –
maar bêre net dié brief.

Want dit bevat gedagtes
wat ons twee moet bespreek:

as alles goed gaan, liefste,
dan sien ons oor ‘n week?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Se maar net ·

Liefde en hartseer laat hul nie voorskryf deur korrekte rym nie. Pragtig jong man, mag daar eendag weer liefde oor jou lewenspad kom wat jou hart verewig sal laat jubel.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.