Louis Esterhuizen (Geb. 1955)
Om dit wat lank vergeet was, te onthou.
Die son wat ʼn pad vind tussen wolke deur.
Die grepe van haar naam.
Om iets wat moeilik is opeens te snap.
Die blom opgefrommel in ʼn klipskeur.
Die grepe van haar naam.
Om op ʼn verhoog voor applous te buig.
Skemertyd se voëls wat uitrafel in ʼn boom.
Die grepe van haar naam.
Om dankie se handdruk te registreer.
Die son op jou gesig wanneer dit koud is.
Die grepe van haar naam.
Om iewers die gelag van kinders te hoor.
Kleintyd as kommervry te onthou.
Die grepe van haar naam.
Want soos stilte slegs die stilte
kan hoor, lê vreugde telkens opgesluit
in die oop grepe van ʼn naam.