IL de Villiers (Geb 1936)
pa jy het min gepraat
ek sien jou met jou hopie boeke eenkant op die stoep
opkyk of jy verskoning maak
dat jy daar sit
in die wit bed met die traliewerk
– verpleegsters het die groen gordyne
rondom versigtig toegetrek –
het jy stil
borrels bloed lê blaas
terwyl jou oë hulle skaam
oor die vlek wat op die kussing groter word:
die ou wond, binne, het weer oopgegaan
klere in jou kas was soos jou woorde min
twee baadjies
kerkmanel
bankboek met drie en tagtig rand
en dertig sent
halwe pakkie peperment
ʼn winterjas en flenniebroek
ʼn notaboekie
L. de V. gekoop Berlyn Kersfees 1936 Hebr. II vs. 13, 15
sê jy het ʼn vaderland gesoek