Fransi Phillips (Geb. 1958)
Nina het ʼn brief gekry
wat sy nie wou lees nie
dit het toe ons inkom
onder die voordeur gelê
Nina het in die wind gaan staan
en uitkyk oor die see
terwyl sy hardop vir haarself vertel
hoe sy na haar klavier verlang
Nina het tussen die bosse deur
na die see toe af gegaan
en geloop en sing terwyl die branders
oor haar voete gaan
Nina het ʼn seemeeu gejaag
skulpe opgetel, op bloublasies getrap
en teen die aand na die skeepswrak
gaan kyk hoe die son ondergaan
maar die brief
wat die bure se seun
vir Nina geskryf het
het onder die voordeur gebly.
Ai tog… arme buurseun wat dalk op ‘n antwoord wag :D! Dankie Fransi!
Wonder hoekom wou sy nie die brief lees nie. Mooi gedig goed geskryf. Sit mens aan die wonder.
Pragtige sentiment. En ek reken dis bloot ‘n gebrek aan ervaring wat nie meer van die gedig kon maak nie?
Dis veral tegnies waar Fransi kortkom (die herhalende “Nina” wat nie lekker klink nie, asook die gebrek aan allernodigste punktiasie). Verder issit veral asof die vervreemding tussen die brief en Nina se “traak-my-nie-agtigheid” meer tekenend uitgelig kon word: nie met beskrywing nie, maar met ‘n ietwat meer tragieke verwoording.
Elk geval, Fransi is talentvol, so ek kannie wag om meer van haar/hom te lees nie.