Gedig: Nor-mal-isasie

Argieffoto (Foto: StockSnap/Pixabay)

Die volgende gedig is gekies vir publikasie in die AVBOB Poësiebiblioteek en word heruitgegee met die toestemming van die AVBOB Poësieprojek . Om dié biblioteek van meer as 18 000 gedigte in al 11 landstale te besigtig, klik hier.

“Nor-mal-isasie” deur Jolene Spangenberg

Hoeveel pizza slices het jy al saam met die verkeerde mense geëet
en hoeveel koffie-dates het jy al deurgesit
sonder om ʼn woord oor jouself te sê?
Jy het nie ʼn graad in argitektuur nodig om te bepaal
watter spasie ʼn persoon in jou lewe mag opneem nie.
Net omdat jy mense kans gee om die pad oor te steek
voordat jy verder ry,
beteken nie ander mag oor jou loop nie.

Lag!
Op ʼn random oomblik
van ʼn random dag
vir jouself en oor jouself,
want lag is terapie
en dit kos nie seshonderd rand per uur nie.
Hoe meer smiles jy gee,
hoe meer sal jy besef jy verloor niks…
Skenk sommer jou klere van laasjaar
en groet die boemelaar op die hoek van Derde laan,
al het jy hom al besope gesien.

Hoe maller die wêreld word,
hoe meer moet jy kophou.
Sê jou sê al kos dit jou ʼn pion,
want more vat jy ʼn kasteel.
Vertrou jou instink eerder as ʼn ander se woord,
want as die Titanic unsinkable was
het ons waarskynlik nie vandag van sy bestaan geweet nie.

En asseblief tog –
Bly weg van daardie stoor waar al die bokse staan
waarin die wêreld jou wil druk!

  • Ter wille van die konteks van hierdie gedig en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie gedig op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.