Gedig: Nuweling

(Foto: Seif Eddin Khayat/Unsplash)

Die volgende gedig is gekies vir publikasie in die AVBOB Poësiebiblioteek en word heruitgegee met die toestemming van die AVBOB Poësieprojek . Om dié biblioteek van meer as 18 000 gedigte in al 11 landstale te besigtig, klik hier.

“Nuweling” deur Hannes Visser    

die ooswind het daardie jaar daelank  versmorend gewaai
met sy warm vlae vol verdwaasde insekte uit die binneland
het hy probeer om die duine om walvisbaai  gatom te swaai

die staatshospitaal was vol hygende longe vol ooswindstof
oudok was in die bed met gout, sy kollega het vis gaan vang
en die lokum was skaars klaar geleer en op haar derde skof

ek moes jou ma met die beetle vat want die een ambulans
het op die Swakoppad in ʼn kruipduin oor die teerpad beland
die tweede een was in die wind op soek na ʼn ma en ʼn kind

dit het soos ure gevoel maar toe jy net na vyf
jou eerste skree gee het die wind gedweë
oor die Namib gaan lê en op die ruit het twee
songeel skoenlappers vir jou gesit en kyk

  • Ter wille van die konteks van hierdie gedig en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie gedig op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.