Gedig: Op die blank marmerblad in die kombuis

Argieffoto (Foto: © Viewapart | Megapixl.com)

Olga Kirsch (1924 – 1997)   

Op die blank marmerblad in die kombuis –
die warm hart waar die lewe van die huis

gedurig stroom, vol geure en gerug
en honger mense wat potdeksels lig –

glim ʼn gedenkdagkers: ʼn blikkie vuur
met was geweeg om vier-en-twintig uur

te brand; en teen die einde van die tyd
steier en val die vlam, strek hy hom uit –

ʼn tong wat roep om hulp; maar hul is stom,
die dodes, as hul tussen mense kom

een maal ʼn jaar. Wie ʼn gedenkkers koop
vir een lank reeds oorlede, vrees of hoop

dat daar vir hom eendag ʼn vlam sal brand
as ou gebruike en ou geloof nog stand

hou in ʼn wankel wêreld. Vreemd hoe stil
en afgesonder is die lig, hoe kil

sy vuur. Ten spyte van die skroeiwarm was
en van ʼn pit wat gloeiend-rooi veras

herinner hy aan ʼn winterstrand, ʼn meeu,
ʼn landskap streng en eensaam onder sneeu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.