Gedig: Opstanding

Argieffoto

WEG Louw (1913 – 1980)

Drie dae was daar duisternis … Alleen,
in diep gelatenheid, soos in die sand
‘n suiwer saad wat wag op son en reën,
het al Sy sterflikheid stil weggebrand:

die swaar en trae slakke van die vlees,
sy onrus, vrees, verwarringe en waan,
dat Hy, een met die Vader en die Gees,
verheerlik in die lig weer op kan staan.

Die wagte kon in daardie gloed nie kyk.
Die steen is afgewentel deur ‘n wind
wat uit vier hemelstreke op die aarde stryk
dat dit vergruisel is tot stof en grint,

en soos uit diepe duisternis ‘n vlam,
staan hoog en rank en smetteloos die Lam!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.