Tom Gouws (1961 – 2018)
Uit: Opsystaan
3. uitsig op kanaän
klim op hierdie gebergte … en aanskou die land Kanaän wat Ek aan die kinders van Israel as besitting sal gee.
– DEUT. 32:49
U het my, Here, lank gevoed op u rare smaak.
op manna en kwartels het U my versadig maer gemaak;
my versoen met sprinkaan en wilde heuning as rantsoen.
my genadebrood, by wyse van spreke, was U toedoen.
maar waar U my nou van hier met dowwe oë laat uitkyk
op ʼn paradys verlore vrugte, bring u my verras van stryk,
in die vrugbare vallei onder, intiem beskut binne oewers,
versterk U oorvloedig die innerlike van fynproewers:
swaar druiwekorrels en geurige appels, amandels, geilgroen
vyebotsels, reusemoerbeie, ʼn sondeurdrenkte boerpampoen.
U laat my oë onbeperk streel oor die oes van die seisoen.
U proe op my tong die inkennige kroon van waatlemoen.
Verruklik mooi!