George Weideman (1947 – 2008)
In hierdie onvaste uur
tussen slaap en wakkerword
is my geheue sonderling opgeskort:
Langs die steier brand ʼn asbosvuur;
ʼn koningstor kom agter sy gebrom
padlangs aangesnor, bokke blêr
hul voersak tegemoet en die môrester
raak weg in die dieptes van ʼn sonneblom.
Onder ʼn karos op die steierkis
staan, sorgsaam toegemaak
en stilweg deur die werfhond bewaak,
ʼn boepenskom met !kharib en gis.
ʼn Dolende engel, gelok deur die geur,
sweef rakelings verby die waenhuisdeur.