Cas Vos (Geb. 1945)
Die wind vleg jou hare
en waai jou oë skoon.
Jou geur vee oor die grond,
jy glip en gly oor klippe,
oor berge sleep jou rok se some,
jy hoor die aarde se hart sing,
wals op jou tone deur die bome,
kielie klanke uit die voëls se kele.
Jy keer jou kruike op die aarde om
en stryk die grond se plooie glad,
maak die ploegvore blinknat
vir gewasse om welig op te kom.
Jy rol spriete soos groen tapyte oop
en visse glinster waar riviere loop.
Hoe lieflik is jou voete
wat op die bergspitse dans.
Hoe lekker rol die Afrikaans oor my tong as ek dit lees…Pragtig!
Dit is innerdaad pragtig!!
‘n Mens sal graag meer hiervan wou lees! Dankie!
‘n Mens sal graag meer hiervan wou lees! Dankie!
Ek sal nooit weer in die wind kan stap sonder om te dink dat my hare gevleg word nie…. dankie vir die plasing van hierdie kosbare gedig.