Totius (JD du Toit) (1877-1953)
In die eensame veld staan ’n tentjie klein,
en daarnaas in die skeemring skuif die ligtende trein;
ek sien in die tentjie, deur die oop gordyn,
’n tafel met bordjies en glasies fyn,
wat sag in die lig van die kersie skyn,
en ek dag: “Was ek net in die tentjie klein,
ek sou tog so gelukkig syn.”
Naas die eensame tent staan ’n meisie klein,
in stomme bewond’ring van die ligtende trein;
sy sien my geniet my glansende wyn
en kost’like maal by elektriese skyn;
en ek raai die gedagte van die meisie klein:
“Ag, was ek maar net in die vrolike trein,
ek sou tog o so gelukkig syn”.
‘n Trein van toentertyd,
helaas ons dit nou kwyt.
In my kindsdae die aankomende gedonder,
van die stoomtrein wat jou soms laat wonder,
gaan hy by jou verby?
dit voel kompleet of hy oor jou gaan ry!
Soete herinnering want ons was naby die spoor,
elke dag en nag die trein gehoor.
Dit word net nie meer so gedoen nie; so oënskynlik eenvoudig nie. Klein storie wat ‘n prentjie oproep, plein woorde, en dan sommer so terloops die waarheid waaroor die gedig handel – hier, die neiging van die mens om te wens hy is in die ander een se skoene en omgekeerd. Ja, die rus (en beter tye) is altyd elders. Dankie MM vir hierdie lekker onthou-oomblik.
PRAGTIG! Totius op sy HEEL BESTE.
Dit was my gunsteling gedig as kind. Kon self nooit kies waar ek my graag so begewe nie. Dan in die tentjie, dan in die trein, maar selde as ooit hier.
My standerd 5 meneer in Laerskool President Brand in Bloemfontein, mnr. Samuel Herman, het onder meer hierdie gedig aan ons bekendgestel. Spesiale onderwysers
is altyd kosbaar.