Gedig: Rosa Rosarum

Argieffoto (Foto: Hans, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Hans, Pixabay)

AG Visser (1878 – 1929)

Kom na my tuin waar die donkerrooi rose
Duist’re geheime vertrou aan die nag;
Sonnestraal-kusse en suidewind-kose.
Drome en liefde die lang somerdag.

Kom in die soel someraande en luister
– Wanneer die nagwind hul drome verklaar –
Na die veelvuldige blommegefluister,
Bloesem en bloeisel en blad altegaar!

Kom waar die lelie – die blanke, die reine –
Skugter haar bloesem ontbloot aan die maan,
Blou miosotis – die slanke, die kleine –
Met haar vergeet-my-nie-ogies betraan.

Kom as die maanblom – wit sy en satyne –
As ʼn vorstinne verskyn in haar prag
Onder die wierook van roos en jasmyne –
Skoonste juweel op die bors van die nag!

Daar in die vywer, bestraal deur Arjana,
Open die lotus haar heilige kelk,
Dan eers bereik sy die hoogste – Nirvana –
As sy in glorie van songloed verwelk.

Bok-bokmakieries sing bly twee-gesange
Wanneer die oggend ontwaak in my tuin;
Saans koer die tortel sy lied van verlange
Bo-uit die troost’lose treurwilg se kruin.

Kom in die aand en geniet van haar geure:
Foelie, jasmyn, angelier, minjonet;
Kom in die môre en kies van haar kleure:
Rooi, wit en goud, groen en blou, violet!

Kom as dit skitter van dou-diamante,
Rosa Rosarum, in my Paradys,
Dat ek my blomme, my bome, my plante,
Roos van my hart, hulle weerga kan wys!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eliza-beth ·

Mooi bly mooi. Of dit vandag of jare gelede geskryf het, die heerlike woorde in ons mooie taal bly bestaan!

HEVW ·

Dit is n Skeppingswonder dat die mens se siel oop en ontvanklik is vir die skoonheid wat die groot Skepper geskape is, en om dit dan nog so in woorde uit te druk dat dit ander diep raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.